Saturday, May 2, 2009

Tot 30 studente bly in 1 huis in die buurte - Beeld 1 April 2009

Daniëlla du Plooy en Liezl Temmingh

Tientalle studente op klein erwe, gemors en voortdurende geraas en musiek.

Dít is van die probleme wat huis eienaars en inwoners van onder meer Auckland Park, Brixton, Melville en Westdene in Johannesburg ervaar met mense wat erwe onderverdeel en uitverhuur – dikwels onwettig – aan meestal desperate studente van die Universiteit van Johannesburg (UJ).

Volgens me. Cindy Grobbelaar, DA-raadslid vir Vrededorp (wyk 69), weet sy van ongeveer 80 huise wat onwettig in kamerwonings omgeskep is.

In een so ’n huis woon daar volgens haar byvoorbeeld sowat 30 studente. “Hulle wil naby die universiteit bly, want hulle het nie motors nie. Dan woon hulle in haglike omstandighede.

“Van die kamers, waarvoor hul tot R1 700 kan betaal, het net plek vir ’n enkelbed en geen vensters nie. Dít terwyl die eienaars derduisende rande per maand maak.”

’n Eiendomsagent, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy doen waardasies vir van dié huise.
“Ek het by een plek ’n student gevind wat in ’n spens woon. Hy betaal R500 per maand, maar kan nie eens regop staan in die vertrek nie.”

In van die huise is glo ook onwettige kragkabels. Volgens haar skep die slumlords, soos sy hulle noem, ook probleme vir ander inwoners. “Die eienaars koop klomp huise in een straat en prop dit vol mense. Dit het ’n vreeslike geraas tot gevolg en lei tot reuse-hoofbrekens vir ander inwoners. “Húl huise se waarde daal, want niemand anders wil daar kom bly of koop nie.”

Grobbelaar sê die huiseienaars kry dít reg omdat die wet nie behoorlik toegepas word nie. Volgens haar is die stad se beleid vir kommuneverblyf nog nie voltooi nie. “Van die eienaars ignoreer bloot die reëls wat daar wel is. Wanneer ons begin met regsaksie, kan dit tot drie jaar neem voordat daar ’n beslissing is. Teen daardie tyd is hulle al skatryk.”

Sy sê die aanvraag na UJ-verblyf is bloot te groot.“Daar is net te veel studente en geen behoorlike beplanning nie. ’n Gebied moet geïdentifiseer word en in hoë digtheidsverblyf omgeskep word.”

1 comment:

  1. Identifying one area and creating high density housing will not solve this problem (effectively segregating students from the community)- the commune policy will address management issues that should see the bulk of the mentioned issues eradicated.

    Within a 1-2km radius around the university you will find the prevelance of student communes - they are in all suburbs. Students have a right to stay just the same as everybody else. They do however have to behave in a neighbourly fashion - with a binding lease agreement and house rules, unruly tenants can be managed.

    Landlords should realise that it is in their long term interest to employ specialist management agents that can run their properties/investments effectively and relieve their pain.

    ReplyDelete