Saturday, May 2, 2009

Blyplek naby UJ, Wits Kopseer - Beeld Maart 17 2009

Hettiën Strauss

Blyplek vir studente naby die universiteite van Johannesburg het 'n groot kopseer vir mense in die omliggende buurte geword.

Wanpraktyke rondom behuising het ontstaan weens 'n gebrek aan 'n amptelike beleid oor studentebehuising van die Johannesburgse metroraad. Raadslid Cindy Grobbelaar sê: "Inwoners wat reeds jare in woonbuurte soos Auckland Park, Melville, Westdene, Brixton en Rossmore woon, sê hulle woonbuurte word nou deur studente oorgeneem en oorstroom. "Dié inwoners is nie langer tevrede met die toenemende verkeersknope nie en is keelvol vir die oorbevolking van studentehuise, die gesondheidsrisiko wat dit meebring en die toenemende misdaadprobleem.

"Niemand het tydens die destydse samesmelting van die tersiêre inrigtings tred gehou met die groot getal studente wat gehuisves moet word nie. "Daar registreer nagenoeg 63 000 studente aan die UJ en Wits, maar die instansies bied slegs huisvesting aan sowat 15 000. "Daar is 'n groot leemte in regulasies oor waar behuising opgerig moet word, die hoogte van die geboue en of dit naby enige beplande busdiensroete is of nie.

Die beleid gaan vereis dat kommune-eienaars aan sekere voorwaardes moet voldoen. Cindy hoop die vereistes is streng genoeg en dat die metroraad die regulasies noukeurig sal toepas.

Die inwonersvereniging van Melville beplan om 'n vergadering oor die voorgestelde behuisingsbeleid op 25 Maart om 18:00 in die Melville Junction-kerk, op die hoek van 7de Laan en 5de Straat, Melville, te hou. Liza de Wet van die Melville-inwonersvereniging sê die inwoners se mening is vir hulle belangrik. "Gemeenskappe moet voor of op 6 April alle skriftelike kommentaar by die metroraad ingee. "Daar is voorlopige aanduidings dat 7de Straat, 4de Laan, Melville en dele van Auckland Park vir dié behuising geoormerk word. "

No comments:

Post a Comment