Saturday, May 2, 2009

Baie kampusse, min plek - UJ bars uit sy nate Beeld 3 March 2009

Chantal Gouws

Baie studente het al 13:00 die Studentesentrum (SS) aangedurf en was dadelik spyt oor hul besluit. Middagete is geen tyd om die SS te betree nie – tensy dit vir jou pret klink om in ’n ry te staan.

Dit is maar een van die bewyse dat die Auckland Park -kampus (APK) oorbevolk is. Die SS is vol, parkering is skaars en badkamers is vol.

Maar dit is die oorvol klasse wat die meeste studente moedeloos maak.

Engelse B.Comm. (rekeningkunde)-studente op die APK voel veral die effek van die bevolkingsdruk.

Adele de Vos, ’n eerstejaar-rekeningkundestudent, het ’n sterk mening daaroor. “Ek haat dit! Ons moet altyd ’n uur voor die tyd in die klas wees of ons kry nie plek nie!”
Michelle Gouws, ’n derdejaarregsstudent, sê hul Engelse klasse is sedert 2007 oorbevolk. “Mense sit al vir drie jaar op die trappe.”

Op die Doornfontein-kampus (DFC) en Buntingstraat-kampus (APB) voel studente ook dié druk.
Richardt Lemmer, ’n derdejaar-chiropraktisynstudent op DFC, sê al loop hul klasse nie oor nie, is daar nooit parkering beskikbaar nie.

Anke van Zyl, wat besig is met haar honneursgraad in bedryfsielkunde, is ’n tutor op APB. Buiten die feit dat die klasse warm is, kry sy die studente jammer. “Dis ongemaklik. Hulle kan nie op die bord sien van die trappe af nie.”

Volgens mnr. Herman Esterhuizen, mediabeampte van die Universiteit van Johannesburg (UJ), het daar teen 18 Februarie 2009 ’n totaal van 46 273 studente by die universiteit geregistreer. Daar is vanjaar 3 659 meer eerstejaars as in 2008.

Die UJ moet voldoen aan riglyne wat gestel word deur die nasionale departement van onderwys se enrolment plan vir elke universiteit wat studentegetalle en subsidies bepaal. Maar as kapasiteit ’n probleem is, wat het van ons ander kampus, die Oos-Rand-kampus (ERC), geword?
Dié kampus is kort na die ontstaan van UJ “tydelik” gesluit om dit te omskep in ’n kampus wat sou spesialiseer in ingenieurswese en bou-wetenskappe.

’n Oud-ERC student, wat anoniem wil bly, voel sy hele lewe is ontwrig deur die sluiting.
“Daar is aan ons beloftes gemaak omtrent vervoer en die heropening van die kampus, maar dit het nooit gebeur nie.” Hy durf maar daagliks die verkeer aan Auckland Park toe. Volgens hom word daar gereeld vergaderings beplan tussen oudstudente van die ERC en universiteitsowerhede, maar dit word glo telkens gekanselleer.

Esterhuizen sê UJ gaan op versoek van die nasionale departement van onderwys ’n omvangryke voorlegging aan dié departement oor die toekoms van die ERC maak.
Die voorstel behels dat die fakulteit ingenieurswese en bou-omgewing op dié kampus programme in vervaardigings-ingenieurswese sal aanbied, in samewerking met ’n plaaslike FET-kollege.
“Om dié programme te kan aanbied, moet daar duur infrastruktuur geskep word. UJ kan nie die koste daarvan alleen dra nie,” sê Esterhuizen.

UJ het die departement van onderwys gevra om staatsfondse beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van die ERC. Die departement sal blykbaar teen einde vandeesmaand formeel op dié versoek reageer.

1 comment:

  1. The student in the article can rent a spot from us that is within walking distance from the campus - by doing this he can avoid the traffic and focus his energy on more productive issues like studying. :-)

    ReplyDelete