Wednesday, January 12, 2011

Instellings oorval

Instellings oorval
Die Beeld
2011-01-11 23:34

Alet Rademeyer en Loren Pienaar

Teleurstelling en wanhoop het duisende studente gister by universiteite in Gauteng begroet waar hulle ure lank in lang toue gewag het om aansoek om toelating tot instellings te doen.

Baie moes hoor dat daar nie meer plekke beskikbaar is in die studierigtings wat hulle wil volg nie. Talle se punte het nie aan toelatingsvereistes voldoen nie en baie het geen idee gehad wat hulle wil studeer nie.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) is sover die ergste geraak met meer as 30 000 laat aansoeke wat ingestroom het.

Prof. Marie Muller, registrateur van UJ, het gesê die toename in getalle kan toegeskryf word aan die beter matriekuitslae wat kandidate vir hoër onderwys laat kwalifiseer.

Meer as 126 000 van 2010 se matrikulante het toelating tot graadstudies gekry.

Muller het ook gesê UJ word oorval deur aansoekers wat nie in 2010 toelating gekry het nie omdat hulle gr.?11-punte nie aan die toelatingsvereistes voldoen het nie.

Volgens hul gr. 12-uitslae voldoen hulle nou wel.

UJ het in 2010 meer as 63 000 aansoeke van eerstejaars gekry, terwyl daar vir net 13 000 plek is.

By die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT) en Unisa se kampus is Pretoria was daar ook lang toue voornemende studente.

By TUT is van die studente later meegedeel dat hulle by ander instellings moet gaan aanklop omdat al die programme reeds gevul is.

Mnr. Nico Dietsiso (18) van Kroonstad in die Vrystaat was gistermiddag die laaste een in die UJ-ry.

Hy het gesê dit het hom sowat R1 200 aan kos, verblyf en vervoer gekos om daar te wees, terwyl hy ook vyf uur lank op ’n trein na Johannesburg was.
Me. Francis Inama van Soshanguve wou vir uitvoerende kunste by TUT inskryf. Sy moes egter hoor dat haar 32% in wiskundige gelettterdheid, 48% in Engels, 45% in verbruikerstudies en 42% in toerisme nie goed genoeg is nie.

Me. Irene Lephale (21) wou verpleegkunde of kliniese tegnologie studeer en moes hoor al die plekke is gevul.

Sy het in 2009 matriek geskryf en verlede jaar haar punte in die aanvullende eksamen verbeter. Met 59% vir lewenswetenskappe, 46% vir fisiese wetenskappe, 43% vir wiskunde en 49% vir Engels het sy gesê sy gaan haar uitslae weer probeer verbeter.

By Unisa het me. Nonhlanhla Shongwe gesê sy het al die pad van Paul Pietersburg in KwaZulu-Natal gekom in die hoop om onderwys te studeer.

Me. Doreen Gough, woordvoerder van Unisa, het gesê tussen 10% en 15% van studente wat net opdaag, moet weggewys word.

TUT het in ’n verklaring op die gevare gewys van ouers wat hul kinders universiteite toe stuur sonder dat daar vir hulle verblyf is. Van die studente bring nagte voor die universiteitshekke deur in ’n poging om toelating te kry.

Die universiteit het studente ook gewaarsku om nie enige geld of dokumente aan mense te oorhandig wat beweer hulle kan vir hulle ’n plek verseker nie.

No comments:

Post a Comment